Chereé se geheim: “Ek trek my hare een vir een uit”

 

Chereé is beeldskoon en haar pragtige, dik bos hare is seker een van haar opvallendste kenmerke. Maar wie sou ooit kon raai dat hierdie country-sangeres eintlik ’n baie vreemde verhouding met haar hare het …

 

Dis al jare dat Chereé haar hare uittrek – veral as die senuwees knaag. Tog probeer sy dit nie wegsteek nie. Inteendeel! Toe ons haar nader om oor haar mooi bos hare te gesels, het sy dadelik met die hele mandjie patats uitgekom.

Wanneer het hierdie probleem kop begin uitgesteek en hoe het dit jou laat voel?

 
“As gesin het ons elke Desember op Langebaan gekamp. Een vakansie, toe ek 17 was, het ek ’n uitval met ’n vriend gehad –’n groot vriendskapsteleurstelling. Ek was verskriklik ontsteld. Eintlik spook dit vandag nog by my. Dit was al laatnag toe ek in my tent gaan lê het en almal het reeds geslaap. Ek onthou dat ek met my hare begin speel het. Ek het dit nog nooit tevore gedoen nie, maar was altyd mal daaroor as my ma of ander mense met my hare speel. Ek dink daardie aand was dit op ’n manier gerusstellend om dit self te doen. Ek het deur my hare gevoel-voel en toe ek een van die dikker hare met ’n growwer tekstuur raakvat, het ek dit uitgetrek. Een haar het twee geword … en later ’n hele klomp. Dis moeilik om te beskryf wat ek op daardie oomblik gevoel het – en dit klink eintlik baie weird as ek dit sê, maar dit was comforting, lekker, bevredigend. Dis vandag steeds vir my lekker om dit te doen. Dis amper soos om ’n blankie te hê – daardie gunstelingkombersie waaraan ons as babas of kinders vasgeklou het en nie van afskeid kon neem nie. Die verskil is dat my hare heeltyd by my is, ek kan énige tyd daaraan trek – al besef ek dis verkeerd! Dis soos iemand wat hulle naels kou. Hulle weet dis nie goed vir hulle nie, maar dis lekker. Soms doen hulle dit bewustelik en ander kere weet hulle nie eers hulle doen dit nie. Dis ook hoe dit vir my voel. Soms is dit amper soos ’n speletjie: ek soek-soek deur my hare tot ek ’n spesifieke haar met ’n sekere tekstuur kry … en dan pluk ek dit uit. Dis altyd die growwe, krullerige hare wat in die slag bly. Ek dink ek het teen hierdie tyd, 16 jaar ná daardie eerste keer, ál my krulhare uitgetrek. My hare is nou baie steil en reguit.

Dis nou 16 jaar ná daardie eerste keer. Doen jy dit nog steeds gereeld?

 
“Na daardie eerste keer kon ek nog nooit weer heeltemal ophou nie. Dit het ’n gewoonte geword en is nou al soos tweede natuur. Daar is tye in my lewe dat ek glad nie hare sal uittrek nie, en ander tye dat ek weke lank elke dag baie hare uittrek. Soms is ek verbaas dat ek nog hare oor het! Ek het nie eers meer gevoel in my kopvel nie. Aanvanklik het dit my glad nie gepla nie. Ek het nie gedink daar is iets vreemds daaraan nie. Inteendeel, ek het ’n paar vriendinne op skool gehad wat snaakse dinge gedoen het – soos die een wat al haar wenkbroue uitgetrek het. Sy moes later wenkbroue laat tattoo het omdat haar eie wenkbrouhare nie weer wou uitgroei nie. Dit was eers in my vroeë twintigs, toe my ma, my sussie en my boetie knaend gesê het ek moet ophou hare uittrek omdat ek bles begin raak, dat ek geskrik het. Ek het eers tóé besef hierdie is dalk ’n probleem, en het toe saam met ’n vriendin op Google gaan rondsnuffel om te kyk of ons meer daaroor kon uitvind. Toe ek afkom op die term trichotillomania, ’n kompulsiewe toestand waar mense hulle hare uittrek, was ek eintlik baie verlig. Uiteindelik kon ek hierdie ding ’n naam gee en uitvind dat daar ook ander mense is wat dieselfde doen. Eintlik baie ander. Ek het bykans nog nie met een haarkapper of haarstilis gepraat wat nié van hierdie toestand weet of dit gereeld by hulle eie klante sien nie.”

Is dit iets wat jy probeer wegsteek vir die publiek of jou geliefdes?

 
“Nee, ek voel nie skaam daaroor nie en probeer dit ook nie geheim hou nie. Ek sal sommer enige plek my hare uittrek, nes mense enige plek hulle naels kou. Al lyk dit of ek net met my hare speel, is ek soms besig om daardie één growwe haar uit te kies wat moet waai. My familie en vriende weet ook daarvan. Wynand het aan die begin elke keer vir my gesê as ek dit doen, maar ek dink hy het nou al moed opgegee. Hy besef dis nou al deel van my. Ek dink juis deur oop en eerlik te wees oor my swakheid, kan ek ander mense help om te besef dat hulle ook nie snaaks of weird hoef te voel nie. Ons het mos maar almal iets wat ons doen wat ons nie eintlik moet nie. Daar is wel kere dat ek letterlik naar voel oor wat ek doen. Ek is mal daaroor om huis skoon te maak, amper obsessief daaroor, en as ek so agter die banke afstof of om die bed skoonmaak, skrik ek nogal partymaal. Ek kan amper nie glo hoeveel hare op die bank, vloer of kussing lê nie. Dis dán dat ek voel dis só onnodig. Ek is geseënd met ’n welige, dik bos hare wat nou, met my tweede swangerskap, baie lank is en gloei van gesondheid. Hoekom hou ek aan hiermee? Hoekom kan ek nie net ophou nie?”

Dink jy daar is hoop vir die toekoms? Voel jy dat jy hierdie probleem beter begin hanteer? Raak jy meer bewus daarvan?

 
“Dit raak beslis beter, en namate ek ouer word, word die begeerte om aan my hare te trek ook minder. Vandat ek getroud is en ma geword het (Taylor-Hope word amper twee en haar sussie word in Desember gebore), het alles verander. Ek dink ek is nou in ’n happy space. Die tye wat ek deesdae wel my hare uittrek, is wanneer ek regtig goeie rede het om te stres. Ook omdat ek nou ’n lewensmaat het om al die stampe en stote van die lewe mee te deel, pla die senuwees minder. My lewe, met my man en kind(ers), voel nou voltooid. As ek nou net van hierdie probleem ontslae kan raak! Dalk eendag …”

 

Deur Voelgoed 29 Januarie 2013

Source – VOELGOED.CO.ZA

 

⇦ TERUG